Is dit reg?

Standard
Ek draf gewoonlik altyd dieselfde roete. ‘n 5km roete, deur sering-, witstinkhout-, en jakarandalanings. By ‘n styl bult op en darem ook weer af. Die roete gaan verby ‘n groot park, en ‘n laerskool en eindig weer by ons huis.
Een Woensdagoggend draf ek wéér dié ou bekende roete. Ek draf verby ‘n man in sy kar wat, met ‘n sigaret in sy mond, besig is om sy kinders skool toe te neem. Die venster is ‘n skrefie oop sodat hy die as kan afskud. “Is dit reg?” dink ek. “Is dit reg om te rook terwyl jou kinders in die kar sit?”. Ek skud my kop en draf verder.
Ek draf verby die O.R Tambo gebou of die Departement van Internasionale Betrekkinge.Ek sien die weeldige gebou wat uittoring bo die huise soos Nkandla. Ek sien die oordadige pilare, die tuine. “Is dit reg?” dink ek. “Is dit reg om miljoene rande te spandeer aan ‘n gebou terwyl ander kripeer van die honger?”. Ek skud my kop en draf verder.
Ek draf verby ‘n ‘ondergrondse’ bordeel wat tans ‘n groot probleem in ons buurt is. ‘n Vrou staan in ‘n kort rokkie buite die hek en rook. Sy lyk moeg. “Is dit reg?” dink ek. “Is dit reg vir ‘n vrou om haar lewe so weg te gooi? Het sy geen skaamte nie?”. Weer skud ek my kop, sodat sy dit sien, en draf verder.
Ek draf verby ‘n babakliniek waar babas hul inentings kan ontvang. Ek dink aan die hele pro- en anti-inenting debat. “Is dit reg?” dink ek. “Is dit reg om nie jou kinders in te ent nie, en dan die sameleweing in gevaar te stel?”.
So draf ek verder. Verby mense se huise, mense sonder huise. Swart mense, wit mense, bruin mense. Mense met babas, met stootwaentjies, met dra-sakke. Mense met babas met bottels, mense wat hul babas borsvoed. Mense op pad werk toe, mense op pad van die werk af. Verby laggende mense, fronsende mense, uitdrukkinglose mense. Mense in karre, mense op fietse, mense op voete. Ek draf en draf met my ‘is-dit-reg-gedagtes’. Is dit reg om jou rommel net daar te strooi? Is dit reg vir jou hond om net daar te poef, en dit nie op te tel nie? Is dit reg vir daai twee mans om so hand-aan-hand in die openbaar te loop? Is dit reg? Is dit reg? Is dit reg? Tot ek naderhand so moeg gehardloop en ‘ge-is-dit-reg’ is dat ek voor die Laerksool moét stop om asem te skep.
Daar kry ek twee jillende seuntjies op hul fietse voor die skool. Hul wil resies jaag voor die klok lui, en stel ‘n ander seun, met iets wat lyk soos ‘n handboek in sy hand, aan as skeidsregter. Hy word aangesê om by die denkbeeldige wenstreep te gaan staan sodat hy die wenner kan aanwys. Hy begin rustig stap om sy posisie in te neem, wat omtrent ‘n 100m verder by die sypaadjie af is. “Vinniger, hardloop!” skree die opgewonde fietsruiters vir hom. Hy neem ‘n effe meer doelgerigte stappie aan, maar skree dan terug: “Ek kan nie hardloop nie, ek het ‘n woordeboek in my hand!”.
Ek gaan staan uitasem stil en besef ewe skielik waarom ek so moeg is. Ek hardloop al heel oggend met ‘n woordeboek in my hand. Ek is so gatvol vir hierdie ‘is-dit-reg-gedagtes’ wat al ewig ‘n ysterbal om my enkel is en skeiding bring tussen my en die mense om my. Ek wil eerder vra: “het dit iets met my te doen?”, “wat kan ek doen om dit te verander?”, “wat kan ek leer?”, “is dit liefde?”, “bring dit lewe?”, “is dit goed?”, “is dit God?”.

 

Ek draf die laaste kilometer vinniger as ooit huis toe, my voete voel lig en ek is skaars uitasem. Toe ek by die huis aankom is my woordeboek se blaaie al nat, stink, en geel geblyk deur die vrot appels wat onder in die asblik gelê het voor die laerskool.
Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s