Koejawelysies

Standard

Daar is ‘n vrou. Ek skat sy is in haar laat veertigs. Sy dra ‘n blykgeel bloes oor ‘n grougrys romp met swart kouse en swart skoene. Een is stukkend. ‘n Blou paplap hoedjie op haar kop. Sy is ‘n ma. Haar seun, ‘n tiener, dra ‘n rooi hemp en ‘n blou kortbroek. Hy het ‘n turquoise rugsak by hom. Hy is maer, soos tienerseuns maar is.

Ek staan op ‘n balkon in my gunsteling ‘cocktailrokkie’, waar ek wag vir ‘n deftige partytjie, waarheen ek my man vergesel, om te begin. ‘n Groot, indrukwekkende koek staan by die ingang en pronk. Die kos is blykbaar deur twee beroemde kokke voorberei, en sal gepaard gaan met baie rooiwyn. Almal sal met oorversadigde pense en effe dronk koppe huiswaarts keer, terwyl die kombuispersoneel halwe borde kos in asblikke uitkrap.
Die blykgeelbloesvrou is egter nie na die partytjie genooi nie, sy is nie bewus van die partytjie nie, sy is nie eers bewus dat ek haar vanaf die balkon dophou nie. Dit was ‘n warm dag, blykbaar ‘n hittegolf oor die hele Gauteng. ‘n Skare donderwolke begin in die horison vergader. Die son is moeg. Sy, die vrou met die geel bloes, staan in ‘n besige straat, tussen heen-en-weer-verkeer, en verkoop koejawelysies (teen dié tyd seker al koejawelsappies). Dit is dieselfde koejawelysies wat ek in die laerskool by die snoepie gekoop het, daai met die baie preserveermiddels wat jou so laat hoes.
Karre ry heen en weer huis toe. Sy hou hou die ysies op wanneer hul stilhou, maar hul neem geen notisie van haar nie. Die rooilig word groen. Die karre ry. So herhaal dit:
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
‘n Vroue verkeersbeampte, in ‘n groen Outsurance pak, stap na haar. Die verkeersbeampte haal iets uit haar broeksak uit en gee dit vir die ysieverkoopster. Die verkoopster haal ‘n ysie uit die sak en gee dit vir die verkeersbeampte. Uiteindelik! Een punt vir die geelbloesvrou! Dis asof ek ‘n tenniswedstryd kyk, en soos gewoonlik is ek aan die ‘underdog’ se kant. Sy kan nog wen, ek skat sy’t nou so vier ysies in haar sak oor.
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
Mense stap kort-kort verby haar en lig maar net ‘n ‘nee-dankie-hand’. ‘n Lang, jong man met ‘n hoed en ‘n sonbril stap na haar. Hy haal ‘n noot uit, koop ‘n ysie en wag vir sy kleingeld. Nog ‘n punt vir die geelbloesvrou! Nog net drie ysies oor. Ek’s opgewonde. My span gaan dié een wen. Ek kyk verder op in die straat en tot my groot teleurstelling kom haar seun, die maer een in die rooi en blou, nader gestap. Hy dra drie sakke, vol koejawelysies. Hy gee een sak vir sy ma. Sy kyk op na die grou lug asof sy bepaal hoeveel speeltyd oor is voor dié wedstryd gaan uitreën. Maar sy’t klaar verloor. Game, set, match vir die heen-en-weer-verkeer.
Sy haal haar geldsakkie uit, tel haar geld. Ek maak ‘n paar hoofrekeninge en werk uit dat sy en haar seun saam seker darem so R45 gemaak het vir die dag. Sy wil seker so graag melk koop, of bietjie vis, of ten minste ‘n sak mieliemeel, maar taxi’s is deesdae duur en sy en haar seun moet voor die storm, wat nou vinnig opsteek, by die huis kom. Sy sê vir haar seun iets, en hy knik terwyl hy sy voorkop afvee en sy oë vryf. Hy neem die sakke met die ysies by haar en pak dit in sy turquoise rugsak, sit die sak op sy rug, en daar begin hul by die besige straat af stap. Stadig, want sy loop moeilik.
Soos hul loop dink ek: Hulle sal seker laterig by die huis aankom. Sy sal moet kos maak vir haar gesin. Dalk sommer dieselfde kos as elke ander aand dié week. Ja, sy sal seker wéér pap maak. Die geluid van water wat in kanne drip omdat die dak alweer lek. ‘n Geel bloes en rooi hempie wat oor ‘n stoel hang om droog te word. Die koejawel ysies moet weer gevries word, want more oggend vroeg begin dit alles weer van voor.
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
Heen, weer, stop.
Hou die ysies op.
Aanhouer wen.
Nou is hulle twee miertjies in die verte. Twee hardwerkende miertjies dink ek, terwyl ek nou opkyk na hulle vanaf hierdie hoë balkon.
Ek draai om, en keer terug na die gonsende mense in hul mooi aandrokke wat binne staan en klets terwyl hul ‘n paar vingerhappies geniet. Ek wonder wat is op die spyskaart. Ek hoop nie dis vis nie, ek haat vis.
Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s